Trane in my kruik
'n Geskeurde hart...
my repies berou
oor my selfsugtige vasklou
aan my liefde en omgee vir jou...
Gehoorsame struikelstap
terug tot by Abba se pad
in wankelrige vertroue
dat Hy my hand
tog iewers styfvas sal vat...
My bede roep soos reukwerk
in my hart
se nie-meer-weet-waarheen.
Dit eggo deur die leegtes
ek skreeu wanhopig
deur die stilte heen.
Ek glo tog, Abba Vader,
amper blindelings verlore,
dat hierdie pyn my weer sal vat
tot by lofoffer se pad.
Ek kniel in magtelose oorgawe
in my alleenweesnood...
ek pleit vir hoop vir krag
net vir vandag
soos my dagelikse stukkie brood...
Ek weet U het my lief
-meer as wat twee gebroke mense
mekaar kon liefgehad het..
Maar tel tog net die trane in my kruik..
en antwoord iewers
in 'n wonderwerk-onmoontlikheid
beter as wat ek kon dink of droom
of ooit van U
kon vra het..
Santie Amery 25/07/2019
Opmerkings