Sielsreis deur die lewe

Dit voel of ek 'n wêreldreis agter die rug het. Ure se soek en wonder oor God - die Bron van lewe, die Lewe in my, die Lig wat deur my skyn. Dié God wat deel is van ons DNA en is in alles wat vir ons sienlik of onsienlik is. 

Ek kon maande lank nie bid nie. Met Wie praat ek nou eintlik, hier waar ek al meer besef dat ek alleen vir my lewe en my lewensuitkyk verantwoordelik is? 
Hoe praat ek met hierdie God wat Homself in soveel vorme openbaar en Wie ek geensins kan deurgrond nie?

En gisteraand besef ek toe hoekom Yeshua gesê het ons moet God VADER noem. Sy dissipels wou ook weet hoe hulle moet bid tot hierdie God. Dié God Wie se Naam onskryfbaar, onuitspreekbaar heilig was en nie deur ons verstand deurgrond kan word nie.
Miskien is dit juis hoekom Hy moes kom. Om die Skepper God vir ons toeganklik te kom maak. Nie net bloot om met Sy dood en opstanding vir ons sondes te betaal nie. Ons siel leef in elk geval in ewigheid. Maar miskien om ons aardse hel van seerkry, worstel, stryd en swaarkry in perspektief te stel. 
Hy weet dat ons sal aanhou soek om sin te maak van die wêreld, die heelal en die onsigbare werklikhede om ons. Stippeltjies menswees toegebou in vel en been, worstelend met met die lig en donker rondom ons.
Hy wil dat ons opstaan en van oomblik tot oomblik lewe, hier en nou, vandag. Nie vir gister se onthou of more se drome nie. In die dagdigte spasie van die hier en nou. Elke sekonde, minuut en uur.
Miskien sien Hom dan ook anders, Vader wat 'n feesmaal deel in die lewensfees van elke dag se oorgawe en vrede. Miskien word ons onrus vrede, omdat ons weet Hy is die God wat sien...
en voel...en weet...
En hier is.

Opmerkings

Kwapie het gesê …
Baie mooi geskryf. Dit is raakgevat.
Elzette het gesê …
Baie waar Santie. Pragtig geskryf!
Afrikaanse Kiwi het gesê …
Hi San. Dankie vir hierdie. Mens sien sy Vaderskap weer met vars oë..

Lekkerste lees...