Pensioendag

Pensioendag is kuierdag en koopdag onder die doringbome by die "office" en poskantoor. Oral staan mense rond en wag geduldig vir die broodnodige pensioengeldjies wat hulle aan die lewe help hou. Smouse sit in die koelte met heerlike vars vrugte en groente en hoenders in hokke vir verkoop. Mense lag en gesels en skud hand, bly om mekaar weer te sien en te kuier so saam met die wagtyd.
Dis 'n kleurvolle toneel met 'n heerlike geroesmoes van stemme en bedrywigheid. Die bekendes kom ons blinkoog en wittand groet. Die lewe is eenvoudig en ongekompliseerd, waarom tog is ons so geneig om dit ingewikkeld en vol drama te maak?
Die aand word daar weer lank en rustig gekuier en gelag by die sjibeens in die stat en laatnag stap een of twee persone moeg gekuier sing-sing deur die stil strate.
More is nog 'n dag...

Opmerkings

Lekkerste lees...