Wag-'n-bietjie, net vir nou!
Die wag-'n-bietjieboom het vennynige skerp dorings tussen sy donkergroen blare. Sy skadu langs die huis word my wasgoed-in-die-sinkbad wasplek, my diepdinkplek, my leesplek, 'n kuierplek en sommige aande my alleenweesplek. Dit word my unieke tempel van my nuwe blyplek. Hier offer ek dankgebede vir klein vreugdetjies en onverwagse omgeegebare van my bure; maar gryp ook soos Totius in die dorings van my waaromvrae vas. Die seer brand van die steekwonde gee geen antwoorde nie, maar dit help my om te onthou dat ons Hemelse Vader altyd vir my daar was, nou ook is en altyd sal wees. Ook hierdie seisoen sal verbygaan...
Opmerkings