My buurman

Ek het eers gedink hy wil my nie groet nie, want as ek waai is daar geen reaksie nie. Maar toe kom ek agter die ou man se brilglase is besonder dik en dat hy sukkel om ver te sien. Hy loop met 'n swart rouband om sy regtermou want sy vrou is 'n paar maande tevore oorlede. Hy is een van die welvarendste manne van die stat, maar woon allenig in die netjiese huis met die rondawel in die agterplaas. Hoendertjies loop die hele werf vol en skrop vir ietsie te ete en sorg vir eiers wat later ook vir my in 'n mandjie aangedra word.
My buurman is Oupa Jan en een van die mense na wie ek met tye opreg verlang. Hy sit graag na sy oggendwerkies in die koelte buite die huis en soms kom sy seun wat die beeste oppas buite die stat, vir hom kuier op 'n donkiekar. Hy eet een warm Sondagmiddag saam met ons onder die wag-'n-bietjieboom van die Sondaghoender en groente. Daarna vryf hy dankbaar oor sy ronde magie in in gebaar van pure weltevredenheid. Die volgende oggend staan hy voor die deur met 'n mandjie eiers en 'n bottel ingelegde vrugte; laasgenoemde die kosbaarste geskenk wat hy vir my kon gee. Sy oorlede vrou het dit nog gemaak en ek mag aan die tasbare herinnering deel he. Ek voel klein in die gedagte van sy besondere liefdesoffer...

Opmerkings

Maree het gesê …
Jy's geseënd met daardie wonderlike liefdesoffer van Jan Santie, het jy dit toe al oopgemaak en geproe? Dankie vir die deel van hierdie pragtige storie....

Lekkerste lees...