Nag

Anders as vir baie ander mense, hou die nag vir my 'n besondere bekoring in. Dis vir my die wonderlikste as ek nie kan slaap nie om sommer buite na die sterre te sit en kyk.
 In Koedoesrant is die sterrekyk snags 'n ekstra besondere ervaring. Daar is geen straatligte nie en as almal uiteindelik bed toe is, voel dit nie eers of mens in 'n dorpie woon nie. Die sterre is 'n fantastiese skouspel van blink-blink diamante wat voel of hulle so naby is, dat jy hulle amper kan raakvat met jou hande. En ai, as dit volmaan is is die hele wereld sag geverf met unieke skakerings van die nag se kleure. 'n Towerwereld wat ook vir Vincent van Gogh aangrypend was!
In die wonderwereld baai ek my siel in die stilte en magsvertoon van 'n oneindige God se handewerk. Ek voel besonder begenadig omdat ek weet dat selfs my kleinste versugtinge en verlange nie vir Hom onhoorbaar is nie. En my naam staan uitgekerf in die palm van Sy hand....

Opmerkings

Maree het gesê …
Ek stem saam Santie, die nag hou so 'n wonderlike bekoring in, veral in die somer wanneer 'n mens snags, wanneer die slaap nie wil kom nie, buite kan sit en na al die 'anderste' geluide luister. Het jy al die volmaan probeer skilder? Dis 'n unieke ervaring!

Lekkerste lees...