DIE GEHEIM VAN DIE NAG...'n sprokie


Dis nag op die berg. Alles is doodstil. Net die paddatjies kwaak by die waterpoel en die kriekies speel saam op hulle kriekviooltjies. 
Dis volmaan. Oupa Maan lag ondeund en kielie die waterpoeletjie met 'n maanstraaltjie.

Die nagwind word wakker. Hy glip sjoei-sjoei deur die lang gras. Met bolwange blaas hy die akkerboomblare dat hulle ronddans van lekkerkry. Die slaperige voëltjies se warm nessies wieg heen en weer soos 'n menskindjie se warm skommelbedjie.

Die kind met die groot bruin oë hoor die nagwind. Sy ogies word swaar van die slaap. Dan raak hy weg in die stil donkerte.

"Kind van die bergwind..."hoor hy 'n verweg stem roep. Hy sit regop in sy bedjie op die grond. Die kamer is gevul met 'n sagte lig wat sy hart gelukkig maak.

"Kind met die drome in sy hart..." Die seun staan stilletjies op. Hy loop op sy tone tot by die blou deur met die koper deurknop.

Buite vee die nagwind oor die lang gras. Die gras gaan lê plat en spring regop in 'n vrolike winddansie. Die maan is 'n goue bal op die top van die berg. Die goue glans streel oor die grasveld, die bome, die huise en vallei doer onder. Die hele wêreld lyk soos 'n geheimsinnige wonderwerk.

"Kom kind, kom! Ek wil vir jou die geheim van die nag gaan wys." Die fluisterstem is vriendelik-sag.

Die seun kyk op en sien hoe die ronde maan vir hom knipoog. Toe weet hy dis die maan wat hom wakker gemaak het. Hy glimlag en stap uit in die melkwit nag.

Die maan gooi 'n blink maanstraaltjie op die grond voor hom. Hy stap tree vir tree agter die ligkol aan.

"Hoor jy die lied van die nagwind? " vra die maan. "Ja, " sê die kind, " ek hoor dit elke aand as die dag wegraak." 

Die maanligstraaltjie spring oor 'n klip en gaan rus op 'n kol in die lang gras. Die kind loop versigtig nader. 'n Gryswit hasie met lang ore slaap opgekrul in 'n warm holtetjie. Sy haartjies blink in die maanlig.

Die maanligstraaltjie wip verder deur die veld. In 'n groot boom skuil 'n uil treurig met 'n hoe-hoe groet. 'n Bruin veldmuisie kyk nuuskierig rond met sy ronde kraalogies. 'n Goggatjie kielietrap op die seun se arm.

In die verte staan 'n wildsbokkie. Hy kyk vir 'n oomblik verwonderd na die stil figuurtjie van die seun. Die bokkie hardloop nie weg nie. In die maanligkombers voel almal veilig onder sy sagte toevoulig.

"Die lig van liefde sorg dat jy nie bang hoef te wees nie, " fluister die maan. "Selfs die donkerste plekke word lig..."

Die kind dink aan die wyse woorde terwyl hy verder agter die maanstraaltjie aan stap.

"Die mens loop baie paadjies, " sê die maan. "Amper so deurmekaar soos die wind se windwaaipaadjies. Dan begin hulle wonder watter een die regte pad is. Die alleenpad, die seerkrypad, die bergklimppad? Soms pluk die mense armsvol blomme wat hulle gelukkig maak. Maar hulle mooi bly net 'n paar dae aan die stingels vasklou. Dan verlep die helder blaartjies voor dit een vir een afval. Party paadjies is bergklimpaadjies, styl en glad as dit nat is. Dan is dit goed om iemand te hê wat jou hand vashou. Dit maak dit makliker om hoër te klim. Die gevaarlikste paadjies is die donker paadjies. Daar waar dinge of mense wegkruip en jou geluk kom steel."

Dis kind sit doodstil op die gras en luister na die maan se verwegfluister.

"Die mens pak maklik sy hart vol met gedagtes wat jou hartseer of ongelukkig maak. Baie keer vergeet hulle om na stilte te gaan soek. Hulle luister ook nie meer na die nagwind se wiegeliedjies nie."
"Maar daar is die wat loop op die paadjie van hulle hart. Hulle ken sy taal en luister na sy woorde. Hulle ken die pad van gelukkigwees," sê die maan

Die maan glimlag voordat hy verder praat. "Die geheim van die nag, is deel van die hart se pad. Daarom wil ek dit vanaand vir jou  kom wys, my kind."

Die maanligstraaltjie begin weer roer deur die veld. Uiteindelik glip dit in die diep donker van 'n silwerblink bergpoel. Die kind buig oor die rant en sien sy gesiggie met die groot bruin oë.

"Sien jy jouself in die spieël van die bergpoel?" vra die wind. Die seun knik woordeloos en wag...

"Dit is die geheim van die nag. Dat jy jouself in die blink stilte sal vind."

Die kind glimlag toe hy opstaan. Hy waai vir die maan wat skielik stil geword het. Die pad terug na die huisie met die blou deur is kort.

Eendag sal hy hierdie nag onthou. Want dis net in die stilte van die nag waar jy jouself kan sien. In die blink waterpoel as jou gesig vir jou terug glimlag. 

Ja, dit is die geheim van die nag...



"





Opmerkings

Lekkerste lees...